Thứ Bảy, 1 tháng 11, 2014

1 November 2014

“Dis alles nuwe ervarings vir ons,” sê jy later op jou geduldige manier.
Nà die groot skrik van jou onverwagse "inmekaarsak" op ons huis se plankvloer vroegoggend, stort ook my skanse ineen. Ek lê onbeskaamd en huil langs jou.

Gister het jy die vyfde chemo gekry, die baie medikasie van die afgelope tyd was seker net te sterk. Toe jy opstaan, kon jy nie loop nie. Jou hele wêreld het gekantel. Ek het probeer help, daarin geslaag om jou met groot moeite terug op die bed te kry. Nà ‘n ruk wou jy toilet toe gaan. Voor die deur verloor jy beheer. Ons liggame hang aan mekaar soos weerlose riete in ‘n stormwind. Ek probeer keer en jy beur en buig. Ek bid teen jou nek, fluisterende smeekbedes. Die aarde trek jou af, af. Ek hou my hande bak agter jou kop sodat jy nie seer moet kry nie. Jy lê plat en hulpeloos op die vloer aan my voete. Jou oë glaserig. Die skrik wil my versmoor. Net toe stuur die Here twee engele na my huis toe. Die voordeurklok lui. Daar staan Sally en haar groot, sterk man. Hulle kom in, hy tel my Chrisjan op asof hy ‘n duifveer is, sit hom sag op die bed neer.

Die res van die dag was baie rustig. Ek het jou soos goud opgepas. ‘n Bakkie hawermoutpap, ‘n glas Ensure, ‘n koppie tee, ‘n sny sagte melktert. Die brand in jou bors maak dat jy nog gladnie growwe kos of selfs gewone kos geëet kan kry nie. Dis deels ook toe te skryf aan die chemo, sê Carin wat dié klipperige paadjie ook al geloop het. Hoe bemoedigend om met mense soos sy te kan praat, mense wat wéét van vrese en worstelinge wat gepaard gaan met kanker.

Toe dit skemeraand raak, hou ek my lyf Florence Nightingale, versorg jou naels, hande en voete, jou tenger lyf. Wit Dove seep. Sag. Louwarm water in ‘n enamel skottel, ‘n groen handdoek onder jou. Lyfroom en hakskeenroom. Aanrol onder jou arms. Jou blou T-hemp, blou soos jou oë. Blou soos God se hemel.

Ek het buite langs die fontein gaan sit, na die honde gekyk wat op die gras speel.  Gebid. ‘n Hanna-in-die-tempel-bid. Trane en woorde gemeng.  God se liefde en Sy vrede het my weer krag gegee.



Thứ Sáu, 3 tháng 10, 2014

Naaldwerkkarnaval


Vir 'n geruime tyd weet ons hier in Bronkies al van die Naaldwerkkarnaval wat in Pretoria gaan plaasvind.  Die doel hiervan is om die publiek meer bewus te maak van wat die Vlu-dames alles doen en waaroor Vroue Landbou Unie nou eintlik gaan. Heelwat van Van Riebeecktak se lede spring dus aan die werk en dertien artikels word ingeskryf. Ons tema:
 LEEF UITBUNDIG!

                     Naaldwerkkarnaval by Moreletakerk in De Villebois Mareuilstraat
Donderdag 2 Oktober 2014 vanaf 10:00 tot 20:00
Vrydag 3 Oktober 2014 vanaf 9:00 tot 16:00
In die rooi en pers sale
Kom leer 'n nuwe kreatiewe vaardigheid aan
Naaldwerkmasjiene en alles te koop vir naaldwerk,
kralewerk, kwiltwerk, borduurwerk, brei, hekel,
appliek, Mola, kloskant, masjienborduurwerk
Deurlopende werksessies en demonstrasies
Vir meer inligting skakel Jeanette 012 345 3284/083 964 4335
 
Nà die beoordeling lyk ons punte so:
En in ons stalletjie pryk 'n wonderlike en welverdiende sertifikaat:
Ja, wenners van die Naaldwerkkarnaval!
Ons is so bly! Die lekkerte van deelname, die baie kennis wat opgedoen word in die proses, die heerlike samewerking onder ons lede, alles was die moeite werd. 'n Groot dankie moet aan ons tak se kompetisiesekretaresse, Emma Pretorius, gaan. Sy kan mense aanmoedig en aanspoor om dinge aan te pak wat hulle gewoonlik nie sommer sal doen nie. Ek het bv. in my hele ses  dekades  + etlike jare nog nooit "scrapbooking" gedoen nie, tog het ek 'n poging aangewend en 'n artikel ingeskryf vir die Karnaval. En baie geleer!
 
Ons tak se vaandel
 
Ons tak se kwilt wat al by so baie geleenthede sy doel gedien het asook al dertien artikels wat ingeskryf is.
 
                      'n Gebreide kussingoortreksel - Sally Ferreira.
 Masjienwerk - Emma Pretorius
Gaasborduurwerk - Marié Smit
 
Tunisiese hekelwerk - Annatjie Bezuidenhout

 Scrapbooking - Elizabeth Kendall

 Quilling _ Wiesie Carlile
 Herwinningsartikel - Zelda Theart
 
 Kruie-asyn - Petra Maritz
 Hekelwerk - Marié Smit
 
Blommerangskikking - Luitha de Jager
 
Malvalekkers - Maryna Olivier
 
Nouja, volgende jaar maak ons weer so! Mag ons werk en ons voorbeeld vir ander 'n inspirasie wees. Mag elkeen weet dat talente gegee is om gebruik te word. Mag die Vroue Landbou Unie in Suid-Afrika steeds groei. Ek is en bly 'n trotse lid van Van Riebeecktak in Bronkhorstspruit en ook van SAVLU. 

Thứ Bảy, 20 tháng 9, 2014

Terapeuties

Om te kan skryf oor dié dinge wat naby jou hart lê, is terapeuties, sê dié wat weet. Mense vind aanklank in jou woorde. Mense deel ook dan makliker hulle diep verhale met jou. Ek kan my so dikwels verwonder aan die skakel wat daar is tussen mens en mens. Die bewuswording van ons eendersheid, ons weerloosheid, ons menswees. Die besef dat alles op aarde net tydelik is, van verbygaande aard. En die wete dat ons die beste uit elke dag en elke geleentheid moet haal. Ons lewe net een maal. 

Vanoggend skryf ek toe maar 'n gedig vir jou my man. Vandag was 'n minder aangename dag nà laas week se chemo. Maar daar is hoop. Altyd. 

Eendag weer


hierdie dae drup een vir een
langsaam verby onder
blou bome en  bloedrooi lug
kyk hoe hang
die bloureën oor die muur vanjaar
my kaalkopman -
hoor jy die kwikstertjie,
sien jy sy wip as hy staan,
as hy gaan
wens jy ook dis al November
Elizabeth Kendall ©


Thứ Ba, 12 tháng 8, 2014

Dis die lewe.

11 Augustus 2014.
My Pa het altyd gesê die lewe is nie 'n piekniek nie. Dis asof ons marionette in ‘n poppespel geword het. Trek dié toutjie, dan maak ek so. Trek daai toutjie, dan maak ek sus. Meganies. Op elke stukkie nuwe ervaring reageer ons sonder om té veel te dink. Dink is skielik nie meer so lekker nie. Slaap is lekker. Wegraak. Onbewus wees. Onbewus van jou worsteling, jou stryd, myne.
Besig wees is ‘n antwoord. Maar wat van jou? Jy kan nie nou besig wees nie. Jy is net. En daar buite wag die wêreld vir niemand nie. Die son kom op. Die son gaan onder. Dis nuustyd, ontbyttyd, middagete, aandete. Kos proe na niks.
Ek hou jou hand in myne. Ek bid vir jou vir ‘n rustige nag. Ek bid dat God jou moet genees. As Hy wil. Jou klere word al groter. Jy word al kleiner. Die siekte hang oor jou soos ‘n onweerswolk. Dis in jou bene, jou arms, jou hele lyf. Die dokter sê dis net op jou long. Jou regterlong. Kanker. ‘n Skrikmaakwoord van altyd af.  ‘n Bangmaaksiekte.
Mense bel of stuur boodskappe. Baie vra vrae. Ons antwoord uit die dokter se mond. Ons sê die woorde op soos ‘n resitasie. Onkologie. Chemoterapie. Bestraling. Siklus. Bloed trek. Biopsie. Party mense stuur Bybelversies op whattsapp of facebook. Die min familie wat oor is, vou ons toe in hul omgee. Ou vriende van lankal word weer splinternuut. Kennisse stel belang, bemoedig. Vreemdes bid. Alles troos. Elke klein gebaar van omgee en liefde word vasgegryp en gedeel. Dankbaar.
As ‘n nuwe dag begin, vul Hy ons harte met nuwe hoop. In die tuin begin die eerste tekens van ‘n nuwe seisoen. Lente. Uitbundig lag ligpers gesiggies in die pot. Ek spuit die vaal gras nat, maak die voëls se waterbakke vol. ‘n Snik ruk deur my lyf, kloof my hart. My liefste Chris.
12 Augustus 2014. Vandag word Liesl geopereer. My Bokkiekind. Ses minute jonger as haar tweelingboetie. Ses minute kan soms so ‘n groot verskil maak. Tumor in die spinale koord. Vandag se bult is steil, maar die Here help ons tree vir tree. Ek weet dit net. 
Toe jy vanoggend opstaan, lyk jy beter. Nie gesond nie, net beter. Beter as gister. Ek maak vir jou roereier met stukkies skaapvleis in. Jy eet alles op. Ons hou hande vas as ons bid. Ons bidwoorde vlieg  partymaal sommer so sonder koers die dag in. Gedagtes met vlerke. Hoop hou nooit op nie.
Die whatsappgroep wat John en Liesl begin het om almal op hoogte te hou van haar vordering,  is bedrywig. Kort-kort pieng my foon. Toe sy uiteindelik uit die teater is, is ek dankbaar en verlig. Toe John ‘n foto stuur van haar, jubel my hart. Prys die Here, die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Vanmiddag maak ek kos. Een koppie rys, twee en ‘n halwe koppie water, ‘n knippie sout, ‘n bietjie botter. Vier stukkies steak in die pan, groente in ‘n ander kastrol. Ek maak die groente te gou gaar. Die rys prut nog. Totaal uit oefening met die kosmakery, maar ek sal leer. Hoeveel jaar is dit nie nou al dat jy my bederf het en ek nooit aan kosmaak gedink het nie? Amper twee dekades. Dis net ‘n kwessie van goeie tydsberekening, sê jy geduldig.
(Hy eet weer alles op, sê my kos proe lekker. My gentleman.)
Laatmiddag sit ons rustig en rooibostee drink onder die appelkoosboom. Die honde speel naby ons, knibbel  en lek aan mekaar. Ou Hagar gooi sy swart Labradorpoot oor Brakkies se worshondlyfie. Liefdevol, beskermend. 

Thứ Ba, 5 tháng 8, 2014

Nawinter.

3 Aug. 2014. Sondagmiddag. Dis stil. Net ek en my gedagtes. En jy speel die hoofrol. My liefste Chris. Hoe het hierdie ding gebeur? Tumor, bestraling, biopsie….nuwe,  ou woorde wat net na ons toe aangehardloop gekom het die afgelope dae, ongevraagd. Woorde wat mens eintlik nie wil hoor nie, maar dié keer het jy nie ‘n keuse nie.  Woorde wat ons nader na God bring, want nader na mekaar, dink ek kan ons nie. Ons het mekaar lief en ek bid vir jou die beste. Ons  glo vir jou die beste.

6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit. Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe.  Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” . “Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê.  Ek het my trane weggevee en geluister, al wou ek nie.
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil  vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos.
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers beleef.

Thứ Năm, 19 tháng 6, 2014

Instandhouding


Gister hoor ek oor RSG as mens 'n blog het, moet jy dit in stand hou. Nouja, hier is ek! Besig met instandhouding. 
Vanoggend weer vroeg wakker, heerlik tussen die warm komberse gelê en lees aan die Vroueblad. Vandeesmaand se tema is "huise". Ons almal weet "as die Here die huis nie bou nie...." Ons weet ook dis nie die buitekant van 'n huis wat 'n huis maak nie, maar die binnekant: die mense wat daarin woon, die liefde wat gedeel word, die saamwees, die lag, die huil. "Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby" (Spreuke 17:1) 

Hier in ons ou huis met die plankvloere is vrede. Vrede en liefde. En ek is so dankbaar daarvoor. 


Die winter lê op die oomblik die hele tuin vol. My vetplante huil. Die gras is vaal. Die wilde knoffel sukkel. Soggens staan die kaal akkerboom donker afge-ets teen die koue winterlug. 'n Verdwaalde hadida gil sy "hallo's" vanuit die hoogste takke van 'n denneboom.
Tog weet ek dis alles net tydelik. Dié wete verbly my grootliks. Dis soos musiek in my binnekamers. En ek hou styf vas daaraan met yskoue vingers. 

Bo in die anaboom se wintertakke sit 'n opgepofde rooikophoutkapper: 'n vrolike flenter kleur teen die ysblou lug.   

Thứ Ba, 27 tháng 5, 2014

Kirstenbosch, hier kom ons!

Van al die lekker en interessante dinge wat ons in één week se kuier- en vakansiedae ingepak het, was die besoek aan Kirstenbosch vir my die heel lekkerste. Natuurlik was ons stom van verbasing toe ons verneem dat die mense by die Burgersentrum (Civic Centre) in Kaapstad nog nooit in hul lewe van Kirstenbosch gehoor het nie.


Die Burgersentrum.
 
 Hoe heerlik proe die vars vis van die Kaap tog nie vir ons binnelanders nie!
 
Maureen geniet 'n Kaapse hamburger, iets wat sy seker min aan die tuisfront sou eet !
Ons plan was om met 'n bus of taxi by Kirstenbosch te kom, maar niemand het geweet waarvan ons praat nie. 'n Ouerige Kleurlingman het gelukkig tot ons redding gekom en ons na die naaste taxi begelei. R100 later stap ons die lieflike tuine binne, taamlik honger en redelik dors.

Aan die voet van die bekende Tafelberg in Kaapstad is die Kirstenbosch Botaniese Tuine. Dit is die tuiste van ‘n indrukwekkende versameling inheemse Suid-Afrikaanse plante en beslaan ‘n ongelooflike 528 hektaar. Die Liesbeekrivier gee water aan die tuine en die totaal-indruk wanneer die besoeker rondom hom kyk, gee gestalte aan die grafskrif van professor Pearson, die eerste direkteur van Kirstenbosch Botaniese Tuine: “If ye seek his monument, look around.”  Die nalatenskap van mense soos professor Pearson sedert die stigting van die tuine is een van trots en natuurlike skoonheid.

 

Cecil John Rhodes was die eienaar van die grond waarin die tuine is, maar het dit na sy dood in 1902 bemaak aan die nageslag. Op die talle wandelpaaie kan besoekers ‘n besondere versameling van natuurlike woude en plantegroei uniek aan Suid-Afrika besigtig. Die tuine maak deur middel van die Silwerboomwandelpad en die Wewervoëlpad voorsiening vir gestremdes in rystoele terwyl die Silwerboomroete en die Geelhout- en die Stinkhoutroetes meer uitdagend is en ongeveer drie ure neem om te voltooi.

Ons het saam met Patrick Peterson, ons gids, in sy golfkarretjie gery. Saam met ons was 'n egpaar van Nieu-Seeland. Vir elkeen van ons was dié uurlange toer 'n sielsverrykende gebeurtenis. Patrick het sy liefde en kennis van al die verskillende plante ruimhartig met ons gedeel. Die feit dat baie van die kruie in die park medisinale waarde het, dat name soos boegoe, laventel, wynruit, wilde-als en knoffel, gemmer en duiwelsklou nog lank deel van ons lewens gaan wees, is verblydend.

Gesiggestremde besoekers is ook welkom en hulle kan die Braille-roete volg deur middel van aanraak en reuk en borde wat alles in Brailleskrif verduidelik. Aangesien hierdie roete ook ‘n besondere ervaring bied ten opsigte van aromatiese inheemse plante word siende besoekers ook aangemoedig om die roete volg waar daar ‘n wyer sintuiglike ervaring as net die sigbare moontlik is. ‘n Roete, bekend as die Skeleton Gorge, volg die roete wat wyle generaal Jannie Smuts gereeld gestap het en eindig bo-op Tafelberg met sy asemrowende uitsig.


Hierdie bome is glo toentertyd deur Jan van Riebeeck aangeplant. Oeroud dus.

Kirstenbosch Botaniese Tuine bevat ook ander besienswaardighede soos die Botaniese Vereniging se konserwatorium, die Skiereilandtuin (oor die 2 500 plantspesies op uitstalling), die Watertuin, die Aromatiese tuin, die Protea-tuin, die ‘nuttige plante tuin’ en Van Riebeeck se Heining wat in 1660 deur Jan van Riebeeck geplant is.
Die groot verskeidenheid, prag en geskiedenis van inheemse plantegroei van Suid-Afrika kan by die Kirstenbosch Botaniese Tuine in Kaapstad ontdek word en dis ‘n inspirerende en fassinerende fasiliteit. Om tussen lewende plante te loop en versierings van Zimbabwiese beeldhouwerk te ervaar, is uniek. Die verskeidenheid restaurante en teekamers dra by om jou siel te verryk. ("Inligting vanaf webblad")

Oral om ons was skoonheid, soos 'n mens net in die natuur kan kry. Ek het die vars lug diep ingeasem en die heerlike reuk van verskeie kruie en plante my eie gemaak. Diep hier binne het ek geweet vandag is een van die saligste dae op aarde. Die lewensblyheid en plesier om sy kennis te deel, wat ons gids uitgestraal het, het natuurlik ook bygedra tot dié dag se vreugde. En buitendien was dit mos ook lekker om alles te kon deel met my eersgeborene.

Patrick Peterson en Maureen op die nuut oopgestelde plankie-pad in Kirstenbosch.
 
Wat 'n heerlike belewenis om hier te kon loop en 'n mens se oë oor die bome en berge te laat galop. Dié "blaredak loopvlak" (wat ook die "boomslang" genoem word) is op 20 Mei 2014 geopen. Dit het twee jaar geneem om te voltooi. Dit begin op die grond en kronkel soos 'n wafferse boomslang al hoër en hoër totdat mens bo-oor die bome heen kan kyk. Van bo af is daar 'n pragtige uitsig oor Kirstenbosch, Tafelberg en die Kaapse vlaktes in die verte.
 
 'n Selfoonfoto van my. Nee, ek was nie bang nie, al het die plankiepad effens gewieg. Die mooi om my was trooskos. Die luislang-pad is 130 meter lank, 11.5 meter hoog en die houtrelings en staalkonstruksie is stewig en duursaam. Dit het vyfmiljoen Rand gekos om te bou en dis boonop ook rolstoelvriendelik.
 
Kom kyk die video (klik op die skakel)
 
 
Kirstenbosch is een van agt Nasionale Botaniese Tuine wat oor vyf van Suid-Afrika se ses verskillende biome versprei is. Die tuin is 560ha groot en die grond is in 1902 deur Cecil John Rhodes geskenk aan die nasie.
Toe Kirstenbosch, die mees bekende van die Tuine, in 1913 gestig is om die land se unieke flora te bewaar, was dit die eerste botaniese tuin ter wêreld met hierdie etos. Wat hierdie Tuine verder wêreldwyd bekendmaak is dat slegs inheemse plante verplant word.
Vanaf 1 September 2004 staan die Nasionale Botaniese Instituut bekend as die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI). ( Inligting)


Ek sou vir dae en dae hier kon rondloop en my verlustig in alles om my heen. Een dag was te min en ek hoop dat ek eendag vorentoe weer dié wonderlike voorreg mag geniet!