6 Aug. Gistermiddag het ons onder die kaal perskeboomtakke gesit. Dun vingers wat in die lug rond gryp bokant ons koppe. Ons het gepraat oor “wat as” en “waarheen” . “Ons moet daaroor praat,” het jy ernstig gesê. Ek het my trane weggevee en geluister, al wou ek nie.
Vanoggend lees ons saam Psalm 23: “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my.” Ons hou hande vas. Ons bid. Ons weet ons is nie alleen nie. Dié wete is ‘n krag-inspuiting, ‘n anker, ‘n troos.
Nà elke winter kom die somer. Mag ons sààm nog baie somers beleef.
Không có nhận xét nào:
Đăng nhận xét