Dis drie dae voor die jaar 2012 verby is. Verby vir altyd. Dis drie dae na ‘n mooi Kersdag in my lewe. Geseënde saamweestye. My seun wat so opreg aan die etenstafel in Engels bid: “Make us fond of You.” Een sin, diep woorde. Die resep vir ‘n vol en oorvloedige lewe!
“Fond”…hoekom het ek nog nooit besef dat dit een van die heelmóóiste woorde in Engels is nie? Die woordeboek verduidelik: Having a strong liking, inclination, or affection en daar word ook gepraat van: Affectionate; tender: a fond embrace.
Daarom wil ek soos Paulus in die boek Thesalonicense dit uitjubel en sê: Ons dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede.
Vanoggend was ek weer so dankiebly! Ek kry ‘n verrassing in my posbus. ‘n Brief van my Pa-se-neef Kosie en in die pakkie ‘n koper sleutelhouer wat hy eiehandig gemaak het. Ek kon nie wag tot by die huis om sy slakkeposbrief te lees nie. Dìt op sigself is iets besonders. Wie stuur in hierdie moderne tyd van e-posse en sms’e en bbm’s nog ‘n gewone brief? Heerlik, heerlik! Ek lees dit sommer so in die terugstap huistoe, sien in my gedagtes hoe hy die koper kersierooi met sy gasvlam maak, sien hoe hy staan en werk met die kapmes en ysterpunt om die verlangde effek te kry. In sy brief vertel hy my hoe hy te werk gegaan het. Ek hoor hom praat.
Ek lees met ‘n glimlag sy gedig:
Kopermasker
kersierooi in die vlam se gloed
hamerslae sekuur en goed
twee oë vir kyk
‘n neus vir ruik
‘n mond vir eet en drink
ryk versier
glad geskuur
gepoleer tot alles blink….
En dis myne! Ek kyk lank daarna. Agterop het hy my naam uitgekrap. En die
jaar: 2012. Kosbaar. Klein en tog groot. Ek voel skatryk oor my onverwagte
Krismisboks.