Daar is min dinge so bevredigend en so lekker as om te kan weet dat daar iemand is wat bereid is om jou werk te koop. Die wêreld is vol mense. Elkeen het sy eie smake en voorkeure. Die wêreld is vol kunswerke.
Duisende kunstenaars verkoop werk op straathoeke, by vlooimarkte, in galerye of sommer so uit die vuis. Vir my is die gerief en die gemak van die internet ‘n wonderwerk waaroor ek my daagliks verbly. My kuns is op drie verskillende webblaaie: RedBubble, Paintings I loveen South African Artists.com En o ja, ek het ‘n facebookblad ook: Elizabeth se kuns/ Elizabeth's art. Ek hou alvier hierdie plekke aan die gang. Kort-kort gooi ek kole of dun houtjies op die vuur, die vlammetjie moet aanhou brand. Iemand mag kom “hande warm maak” op enige een van dié webwerwe. Iemand mag kom loer en met ‘n warm binneste weer wegstap, want God het my ‘n talent gegee en ek wìl dit graag deel.
In my (soms) kleingeloof, het ek eers anderdag besef dat my stil gebed nog elke maand beantwoord was. Sedert Januarie het ek elke maand een of meer skilderye verkoop. Dié wete laat my klein en vol verwondering. Die Here sorg vir ons. Ons moet Hom net vra en vertrou. Ons moet dankbaar lewe en ons talente gebruik en oefen. Ons moet nooit moed opgee nie. Hy is getrou. Hy gee meer as waarvoor ons vra.
In Januarie verkoop ek ‘n groot skildery aan Kara van Toronto. Ek noem dit: “This is Life!” Dis met ‘n paletmes gedoen. ‘n Massiewe golf blou see. Sy ontvang dit met blydskap en hang dit bokant haar bed…..ver, ver oor die blou waters wat ons skei. My hart juig!
In Febr. laat weet South African Artists.com se Marina Eilers my dat twee abstrakte skilderye ‘n baas soek. Ek maak die pakkie op met ‘n lied in my hart.
Voordat Februarie verby is, bestel Liesl Greyling op fb ‘n kleinerige skildery wat ek op x-straal gedoen het. “After Alfred” kry ‘n baas en ons voel altwee in ons skik. Sy sal dit self laat raam.
Ek skilder elke week iets. Sommer net omdat dit my soveel genot verskaf, omdat ek kan en omdat ek wil. Ek neem foto’s van my kuns en laai dit op die kuns-webwerwe. Ek geniet die kommentaar van vriende, kennisse en mede-kunstenaars. Ek geniet hulle kuns ook. Ons inspireer mekaar, moedig mekaar aan met opregte lofuitinge. Dis so bevredigend.Dis so sielsverrykend heerlik!
In Maartmaand verkoop ek weer twee skilderye: “A river in Africa” Hoe baie het ek dit nie geniet om dié natuurtoneel te skilder nie! Willem van die boekwinkel op die dorp koop dit en ek en hy gaan soek ‘n gepaste raam uit by Sarie se raamplek. Willem hang my skildery in sy kantoor op, almal kan dit sien. Ek voel so bly.
Intussen kom kuier Linda hier. Sy bestel ses windpompe. Ek doen dit in waterverf. Nie baie groot nie, maar tog ‘n heerlike uitdaging. Sy maak fotostate daarvan en plak dit op blikke vas wat sy versier: “Pa se bêreblik” noem sy dit! By Willem Prinsloo se Mampoerfees verkoop sy haar blikke. Die oorspronklike windpompe gaan sy laat raam en in haar huis ophang, al ses van hulle. Dit was Meimaand se ses seëninge.
In Junie toe die koue al goed begin knyp, sien een van Maureen se fb-vriende die blou rivier en groen bome raak op haar blad, want ek en my kinders deel mekaar se blydskap en hartseer. Die prentjie rààk sy hartsnaar, want daar waar hy bly in Michigan was groot veldbrande en sy geliefde landskap is afgebrand. Sy herinneringe was besig om te vervaag. Toe hy die blou rivier sien, spring daar ‘n duidelike beeld van beter tye voor sy oë op en hy bestel ‘n soortgelyke skildery by my. Ek verf dié keer op ‘n lekker groot geblokte doek. Heerlik! Ek voel dolgelukkig dat my handewerk in ‘n ver land oorsee gaan hang en iemand se hart gaan bly maak. Die blou rivier kronkel tussen die berge in, ‘n lafenis vir die siel.
Steeds Junie en weer bestel Sanne-Marie ‘n skildery: sy wil twee hê wat langs mekaar kan hang. Twee wat bymekaar pas en hande kan vat. Ek sê dankie en doen my bes. Dis die einde van Junie en Bronkhorstspruit is koud, maar my hart is warm en vol vreugde want ek geniet wat ek doen!
Ek koop meer verf by Jimnettes in Pretoria, ek speel met kleure op die x-straalplate. Die paletmes ken sy pad. Ek verloor myself tussen die verfpotte!
‘n E-pos van ‘n onbekende man kom lê in my posbus: sy naam is Omar en hy woon in Engeland. “Is die skildery: “Getting Lost” wat op PIL was, nog beskikbaar? “ vra hy in Engels. “Dit is nog bekikbaar” sê ek, ook in Engels. Ek laat dit vir hom raam, netjies en met montering en glas voor. Sarie doen uitstekende werk. My Omar-ondersteuner klim op die vliegtuig, klim in ‘n motor en ry van Johannesburg tot in Bronkies om die skildery persoonlik te kom haal. Hy bring een van sy kollegas saam. Hulle bekyk al my werk wat hier in die voorste kamer uitgestal is. Ek bewe van opgewondenheid, neem ‘n foto van hom met sy skildery in sy hande. Hulle wil nie koffie of tee drink nie. Ek gee vir hulle pasteitjies vir die pad. Hy belowe hy gaan nog iets bestel, eendag vorentoe. Ek is so bly soos ‘n kind wat ‘n blink geldjie in sy skoen ontdek na ‘n Tandemuisbesoek. Nee, ek is nog blyer as dit, want Omar se kollega koop ‘n skildery wat al lank hier by my staan. Is dit maar net toeval dat dié skildery se naam: “Heaven is a beautiful place” is…..ek glo nie.
Juliemaand breek aan. Dis koud. Dis stil. Dis winter. Die gras is vaal en die bome kaal. Ek verkoop niks. Dis die 28e, die maand is amper verby. Ek maak koffie in die oggendure in ons koue kombuis en kyk op my foon na die boodskappe: Twee skilderye is van South African artists.com af bestel. Ek jubel! En ek dink aan my gebed. En ek weet. Dis die Here. Hy seën my so. Ek vertel vir Chris. Hy stem met my saam. Ons saam blywees word ‘n dubbele blydskap. Vandag is dit Maandag, ek gaan netnou poskantoor toe om uit te vind wat die posgeld sal wees. Iemand in die Kaap gaan twee skilderye teen sy muur ophang.
In Augustus bestel Omar van Engeland drie skilderye wat ek al in 2010 voltooi het. Dié drie lê my na aan die hart. Ek het dit laat raam en dit hang in ons kerk se jeuglokaal .....om kinders en jongmense bly te maak, sou hulle daarna kyk! Omar en sy vennoot is baie besig en kry nie juis kans om Bronkies toe te kom nie. Ek gaan haal die skilderye en maak dit staan hier in die voorste kamer.....en ek wag maar geduldig. Op 20 September kom haal hy sy skilderye....en gee my sommer 'n piksoen op die wang! Dis vir sy dogtertjie wat tien word se verjaarsdag. Mag dit haar elke dag bly, blyer, blyste maak! Toe hy groet, sê hy vriendelik: "We'll keep in touch!" 'n Reënboogbelofte aan my horison!
In Augustus kry ons lekker kuiermense, vriende van baie jare. Ons blaai deur die kunswerke: waterverf, akriel, olie......ek deel twee uit sommer net omdat dit lekker is en omdat ons mekaar jare der jare al ken. Retha koop een.....heerlik! Boomstamme teen die blou, met waterverf gedoen. Ek voel so bly!
Op 7 Oktober verkoop ek aan Estelle Duvenhage van Vredenburg (ook iemand wat lief is vir ons taal en woorde) 'n skildery wat ek in olieverf gedoen het. Heerlik gespeel met die paletmes! Ure en ure se genot wat hier vasgeverf lê. Dankie Estelle, vir jou wonderlike ondersteuning. 'n Paar jaar gelede het sy my ook ondersteun en 'n akriel-skildery van 'n maan gekoop, ek was so dankbaar. Sy geniet dit steeds, so sê sy.
Op 'n heerlike reënerige dag in November, die 8e om presies te wees, kom Grietha Opperman by ons hekkie ingestap. "Ek kom my skildery haal!" groet sy vrolik met die intrapslag. Musiek in my ore!! ♪♪
Sy koop "Die meisie met die pêrel oorring" (Hollands: Het Meisje met de Parel), dis een van die Hollandse skilder Johannes Vermeer se meesterstukke gewees en ek het dit 'n paar jaar gelede in die kunsklas by Riana Dippenaar voltooi. Dis in akriel gedoen en geraam. Grietha betaal my en ek en sy is beide in ons noppies!
Dankie Here. Ek weet dis U groot genade.